Month: March 2016

Kraai koning!

Haandrik en harem

 

Vanoggend moes Deo Volente en sy inwoners self wakker word….ons geliefde en gedugte Haandrik kraai nou in die hemel!

Die stilte wat douvoordag gevolg het op die buur-haan wat van veraf kraai was verkeerd en onrusbarend!  Haandrik hou nooit sy bek nie, hy praat eerste en harder terug!  Hy is nie nice nie…hys groot en beeldskoon en hy doen sy werk met trots en arrogansie!  Hy het die harem onder beheer, hy eet eerste en hy vat nie twak van die vroue nie!  Smiddae 4uur het hy op die dwarsbalk geklim wat net buite my studio se venster is en my met ‘n evil eye verskree-kraai om seker te maak dat ons weet dis etenstyd!  Dan het ek hom gemaan om geduld te he en hy het harder teruggepraat.

Maar hy het seker gemaak hy laat ons weet as daar iets op die werf aangaan wat nie moet wees nie, dag en nag was hy op diens!  Soms het hy ons in die middel van die nag laat uitstorm vir geen rede en ander kere het hy ons gered.  En nou is die stilte aardig!  Die harem is stil, hulle het voordag eienaardige kloek geluidjies gemaak maar nou is die werf doodstil.

En ek en die Virgo se harte is seer…ons diere is nie diere nie, as mens jou hoenders name gee is jy nie ‘n gewone plaasbewoner nie!  Jys ‘n softie, ‘n denker, ‘n kunstenaar…jy wonder hoekom die lewe so ongenadig met jou tekere gaan!   Hoekom ons alweer ‘n gat in Deo Volente se klipperige aarde moet oopsukkel om nog ‘n geliefde lewetjie in te bere!  En ons wonder hoekom nou…nou is nie ‘n goeie tyd nie!  As mens mank gelewe is, het mens die hoop dat die lewe jou nie so aanmekaar sal omstamp nie!  En ek probeer hard om te glo dat daar ‘n doel is met alles…dat alles ten goede meewerk….!  Maar ek kry nie myself vandag oortuig nie!

Kraai koning daar bo ou Haandrik, kraai hard en kyk of jy nie ‘n goeie woord kan inkraai vir die wat agtergebly het op DV nie asseblief!  Se tog ook dat ons nou sukkel met die hoop, dit raak nou ‘n mistroostige mishoop!

Advertisements