Month: October 2017

Mens moet doen wat mens moet doen…!

 

Dis nou ‘n al ‘n hele ruk wat ek weet ek moet ‘n slag ‘n mooiding maak, anders…!

Daar kom planne in my kop en dan spring my hart en dans ‘n riel!  Maar ek was mos ‘n vreeslike soet kind. Daarom was ek altyd eers die skottels, vee die kombuis, hang die wasgoed en kook die kos voor ek die mooimaak plan uitvoer!  Teen daai tyd is die dag om, die krag op en alweer ‘n namiddag en aandlys wat wag om te gebeur.  En so hoop die planne op…die frustrasie bou, die humeur raak sleg!  Ek hoor myself dieselfde goed vir die Virgo se…ek moet ‘n slag ‘n mooiding maak, dan hoor ek sy antwoord dieselfde ding, ja, jy moet!  En dan was ek die volgende skottels!

Maar die Lewe het Sy eie plannetjies.  Dankie tog vir dit!  Laasweek se ek vir die Virgo…ek moet ‘n slag….!   En ek stop myself, ek begin voor…ek en Button en Scarlet gaan dorp toe travel, ons gaan ‘n mooiding maak!  Yeah…se die Virgo, dog jy kom nooit daarby nie!  Geniet en ek kook ‘n lekker kossie vir wanneer julle aankom met die mooiding seg die Virgo.

Ek stap by die dorpshuis in en begin skottels was, ek sit wasgoed in, ek vat die besem en ek stop myself…!  Stop dit, se ek hardop…arme Button kyk my verbaas aan, nee seg ekke, nie jy nie my arme Knoopsgat, ekke praat met my eie sigselwers wat nie ore het nie!

Ek sit die besem neer en vat ‘n lap, vee die snytafel af en haal die naaimasjien uit.  My hart maak ‘n dansie!  Die lappekas raas, ek loop nader en se saggies, ek is klaar deurmekaar, nie almal gelyk nie!  Ja seg die stapel wit lappe, ons eerste want ons wag die langste!  Issie skreeu die linne, ons is al horingoud gewag!  Lieg…lieg skree die teehemp lap, ons is al jare in hierdie verdomde planne-sak!  ‘n Bloedstollende gil vanuit ‘n mandjie laat my omskrik…jyt belowe skreeu die kant, jyt belowe jy sal ons eerste gebruik op watookal jy maak!  Stilte, gil ek soos ‘n wafferse magistraat in die hof!!  Ek loop sommer weg en gaan poets op die plaas, alla mapstieks, dreig ek ydelik!  Dis reg, brom die kolletjies lap, vanuit ‘n hopie in die hoek, jy belowe net altyd en ons wag en wag, dis ook nie regverdig nie!

Goeiste?  Ek begin hulle aandra, sit al die beloofde planne in hopies en maan hulle om stil te bly.  Ek gooi die kant uit, ek haal die patrone uit, my hart spring uit my lyf en dans ‘n riel tussen die chaos!  Dis te veel idees, my kop sing, of nee, dis die lappe wat so sing!  Ek gooi ‘n glas wyn, steek ‘n wierook aan en dink.   Ek laat die oomblik toe om soos ‘n reenboog om my te vou, voel die suikersoet lekkerte van kreatiwiteit wat vastrapplek kry.  Dit raak rustig, dit raak stil…ek hang my maatband om my nek, neem my rooi sker en kies versigtig uit die hope moontlikhede.  En soos altyd…verskyn daar ‘n prentjie, duideliker en duideliker.  Ek meet, ek pas, ek las, ek kry lekker!  En daar…nog ‘n skirtjie is gebore!  My hart klim terug in my lyf, tevrede en baie gelukkig!  Mens moet doen wat jy moet doen maar mens moet veral doen wat jou hart laat dans!

 

lappali kolle skirkie

Advertisements

All change is good…!

Goed moet beweeg…dis van kardinale belang!  Ons wat met energie werk weet dat pyn is maar net energie wat verstop geraak het!  As jy dit kan kry om te beweeg dan word dit beter of gesond.  En dis met als die waarheid!  Water wat stilstaan raak vrot en siek, visse gaan dood in stilstaande water!  Enige ding wat te lank aanhou is later nie meer goed of gesond of lekker nie!  Die geheim is om nie te skrik of bang te wees vir die winde van verandering, die lopende water en die gevoel van beweging nie.  En ek praat nou met my self meer as enigiemand anders.  Vir my voel dit soms of verandering beteken ek verloor dinge, dinge wat ek aan wil vashou en vir altyd in my hartkamer op ‘n sagte kussing neersit!  Maar die Lewe het my gewys dat mens moet toelaat dat die water vloei, dat die nuwe moet spasie kry, dat die goeie altyd in jou hartkamer sal bly, dis die sleg en die pyn wat wegvloei!  Maak oop jou hande…laat gaan sodat jy spasie het vir ontvang!