Month: December 2017

Agternemens…!

 

 Dis daai tyd van die jaar…!  Die tyd wat ek nog probeer ore aansit, of sal ek se ek wil die ore wat hy elke jaar vir my aangesit het vir hom teruggee!  Elke jaar belowe ek my eie Self dat ek volgende jaar Desember ook gaan af wees, vakansie hou en op die strand sit.  Dalk ‘n draai roomys lek met hier en daar ‘n korrel seesand in.  En elke jaar kry ek daai voorneme nie uitgevoer nie…dis hoekom ek nou hier kom sit het met die perspen en skrywe oor agternemens.

Hoeit skree die woelSiel soos hy aangestorm kom.  Sien jys nog hier…?  Wanneer gaan jy skree hy!  Hy wag nie vir ‘n antwoord nie…storm in die volgende sin in!  Sien meeste huise is toegekap, hier en daar ene wat vol kuierSiele is.  So…wanneer gaan jy vra hy weer?

Ek gaan nerens woelSiel, ek is waar ek moet wees vir Nou, en kan jy bietjie stilstaan, jy maak my kop draai met jou woelery!  Wat vang jy aan met daai sak wat so boep staan, is dit persente vir Krismis?  Nee seg ekke, dis my agternemens, ek pak hulle uit en gaan hulle in die tuin inspit.  Jy praat alweer stories seg hy, ek verstaan gun stuk woord nie en ek het nie tyd om te mors nie, ek het om te doen en baie om mee te woel!

Sit ‘n oomblik seg ekke…dan vertel ek jou.  Hy woel nog ‘n draai en kom toe sit.  Jy sien…die ding is so!  Elke nuwe begin jaar sit ons mos en belowe-lieg vir onsigselfwers en ander Siele!  Goed soos, die jaar gaan ek dun en fabeldooslik wees, ryk word en ophou met iets of anderlikes.  Dis wat in hierdie sak is…my agternemens want voor is hulle nie meer nie, en nou voel ek aardig oor hulle en mysigselwer.  Toe dog ek…ek hou nie van mors nie, ek kom spit hulle nou in die tuin in, dan kan hulle ten minste bemesting wees vir my liefplante.  Met die uitpak van die agternemens het ek nuwe gedagtes gekry.  Dis dat ek nie by meeste van my voornemens uitgekom het nie maar dat ek wel ‘n klomp goed in hulle se plekke gekry en reggekry het, goed wat ek nie gevra  of belowe het nie.  Mens kan sulkes miskyk as jy teen die wat nie gebeur het vaskyk.  Dis die wat suutjies in jou lewe instap en saggies op ‘n stoel kom sit sonder dat jy dit regtig met dankie blywees oplet want jy kyk net na die lee kolle.  Een van die lekkertes wat so opgedaag het is dat ek geleer het om nie so hard te stoei en woel na beter toe nie, om een maal per dag net te sit en dankie bly te wees.  Ook om bly te wees oor Nou, al is Nou bietjie aweregs, het Nou ‘n lieflikheid aan hom, en eintlik is Nou al wat ek het en van seker is.

Stilte!…skree woelSiel…wat praat jy alles?  Wat dan van woel en doen, en se nou maar net, en as dit of dat…?  En ek is oppad na beter toe…ek kan nie so sit nie, more is beter en volgende jaar is die wonderlike jaar waarvoor ek nog altyd wag!  En hier is aardig want ek moes eintlik daar wees.  En ek moes eintlik ge-iets het, en as dit nie was vir anderSiel se twak nie was my lewe beter…!  Nou is verkeerd want hyt skeefgeloop en is gladnie ‘n plesierige oomblik nie!  En jy praat my skoon op my senuwees…ek kan gladnie meer luister nie, jy behoort op te staan en te werk aan anderdag wannir se lekker wat oppad is anders mis jy alles.  Dan sal alles perfek wees!  En daar trek woelSiel in ‘n stofwolk.

Ai dink ek hardop…dis dan hoe ek nog altyd gelyk en gevoel het.

Dankbaar vir die persent van al die agternemens wat my laat besef het, ek het net Nou, en Nou is presies reg in sy on-regheid!  Ek staan op en begin spit, ek gooi al die agternemens in die tuin, laaste werk ek die jaar se ore ook in.  So-ja…!  Nou sit ek weer en ek dink hoe lekker is dit om te kyk na alles en te weet dis presies soos dit moet wees vir Nou.  Nie meer nodig om swaar stories uit te dink oor wat nie is nie, te wroeg oor hoe dit moes wees nie, en in die gewroeg, die groot sak persente van elke oomblik mis te kyk nie. Ek het ophou baklei teen die Lewe, en Nou, Nou Leef ek uiteindelik lekker!

Advertisements