Month: March 2018

Duwwelpad se ritme!

Ek kan multi task!

Ek is uitstekend daarmee, dis ‘n kompetisie wat ek in my kop aan die gang het. Hoeveel kan jy op ‘n slag doen, hoe lank kan die lys wees en hoe baie is afgetiek vanaand. Dan is ek of diep tevrede of suurgetrek met mysigSelwers aan die einde van die dag.

Ek het nie so begin nie. Gladnie! Was baie geterg oor ek so dromerig, luierig en leserig was kleintyd. Ouma Alida het altyd gesê sy gaan vir my spoedpille kry by die dokter. Dit het ‘n tergery geword. My broers en susters het sommer bygevoeg dat ek die bedorwe laatlam is en lui is. Daai ene het skeef kom sit op my. En uit al hierdies het ek seker gegroei tot by ‘n stormende veeldoener. Ietsie soos bewys dat ek nie is wat gesê was nie. Die ellende van so ‘n skeefgroeiery is mos dat net jý daarvan weet. Niemand het bedoel om my te na te kom nie, ek het dit self aangevang.

Trots was ek later oor my raakvattery, spoggerig het ek groter en verder bygekom as meeste raakvatters. My lyf het soms gesmeek vir genade, met tye geknou en mank gesleep. Dan het ek gestop en mismoedig en skuldig gesit en wag dat hy weer regop trek. Net om voort te storm deur die lys en af te tiek en te wonder hoe kan ek nog meer inpas in die dag. Altyd skuldig oor die on-ge-tiektes en altyd bekommerd oor dit wat ek nog wil en moet en behoort…

Maar ‘n lyf kan opraak. Myne het op ‘n stadium gewaarsku! Die ligte bewing in my het nie meer tot stilte gekom in die nag nie. Die hoofpyne het later nooit meer weggegaan nie, net ligter en erger geword. Die maagpyn en stukkende mond het deel geword van my stormende lewe.

En toe breek ek flenters. So flenters dat dit my ‘n jaar gevat het om weer amper mens te wees. Min het ek geweet as mens ‘n lyf so ver druk, dat jy vir altyd ‘n mank-meester met jou sal saamdra wat jou herinner om stadiger te leef.

Die meester het vir my brieke aangesit. Eers het ek my teëgesit en was ek suur en kwaad daaroor. Later het ek die boodskap en gift begin soek en gekry.

Nou is ek terug by my eie ritme waarmee ek gekom het. Stadig is myne. Een ding op ‘n slag is my beste doen. Ek het ingesien dat ek is waar ek is, nêrens om heen te storm. Twee en drie op ‘n slag beïndruk niemand nie. Gefokusde liefde en kreatiwiteit is kwaliteit.

En toe verstaan ek wat Lao Tzu gesê het: “Nature does nothing, yet nothing is left undone!”

En ek skink vir my en my meester ‘n koppietjie tee, ons sit langbeen in die son en doen net dit, vir nou.

20170206_174843

Advertisements

Die pad is vol duwweltjies…!

 

Daar was ‘n tyd, lank terug, waar ek my duwwels vertel het omdat ek nodig gehad het dat mense moet sê hoe jammer hulle is dat ek so baie duwwels in my pad het. Dit het dikwels tot annerlike steeksel oomblikke gelei. Ek moes leer algaande, dat dit nie noodwendig help om jou dorings in die openbaar uit te haal nie. Met die tyd saam en tydsamig het ek op my pad binnetoe begin roep en gevoel hoe my innerlike krag versterk het met die duwwelpad wat ek gekies het in my lewe. Ek het geleer dat elke duwwel ‘n blom het, dat die plant van die duwwel, doeksag is en dat dit ‘n saad dra.

Mens moet hom anners bekyk, hy het ‘n skerp saadjie, maar dis net ‘n deel van hom, wat bring hy voort? Dis die belangrike deel van die pad.

Daar is diere wat die duwwelplant eet met smaak en wonderlike voeding daaruit kry.

So… ek het lus om met julle my duwwels se blomme te begin deel, die vrugte van die duwwels. Dis nou as julle wil hoor?

Voel jy ook Kletterverskrik…?

Dandelion.jpg 

In my soeke na eenvoud en vrede dop die woord ‘clutter’ heeltyd uit. Dit raak ‘n elke dag se, heeltyd se woord wat my help om koers te vind en my eie lewe te ‘an-clutter’.

Alhoewel ek baie van my werk in engels doen is my hart se taal Afrikaans. En ek begin die Afrikaanse weergawe van ‘clutter’ soek. Daar kom allerlei maar nie een vind sy pad in my hart in nie. En net soos die Lewe werk, kom die woord toe ek dit die minste verwag! Die perskop webbouer skryf ‘n boodskap en seg; “Ek is kletterverskrik,  het heeltemal te veel om te doen!”

Ek juig so oor die woord dat ek amper nie simpatiek is oor haar verskriktheid nie! Die mooie woord storm dwarsdeur my tot binne-in my hart en ek skree, daar!! Dis hy, die woord is gebore!

Plesier seg sy, ek het hom ook persent gekry van die Lewe, hys joune!

Ek het nou eers met hom suinig in my hart rondgeloop vir ‘n rukkie, oor en oor gefluister en binnetoe geglimlag oor hom. Maar nou kan ek dit nie meer hou nie, ek wil hom nou gebruik en vertel van die lawaai van kletter.

Kletter is soos geraas, dis al die goete in mens se lewe wat jou besig hou met niks dat jy nie by Dat uitkom nie. Dis die goete wat jou later kletterverskrik laat storm van niks tot niks. Stokflou staan jy aan die einde van die dag en wonder wat het jy nou eintlik vandag bygevoeg tot die Lewe. Stokflou maar jy het nog niks gedoen wat jou laat glimlag nie!

Kletter kan woorde wees wat onnodig gepraat worre. Of dalk te veel klere wat oorloop uit die kas, en op jou skree as jy die kas oopmaak.

Of dis mense, daardie siel wat te veel praat, te veel vra, te min gee, nie meer jou skirt opwaai nie. Dalk is dit al die boeke op jou rak wat jou gereeld verwytend aankyk oorlat jy hulle nie lees nie. Daai tydskrif wat jy gekoop het en nog nie geblaai het en die volgende weergawe is al op die rak!

Stop ‘n rukkie… en kyk om jou rond, luister na die lawaai van al die gekletter. Watter van hulle kan jy an-kletter?

Watter het jy lanklaas gebruik, gaan jy nooit weer gebruik?

Gee weg!

Maak die ge-Kletter stil en sit sagte musiek aan, dans ligvoet verder en sug van verligting!

 

Werfbouery…!

Werfbouery….!

 

Ek bou ‘n werf, dis amper soos tuin uitlê, net heeltemal anders, maar tog presies dieselfde. Die plantjies en klippies en grawe en spitte en dinge lê oral. Ek val oor dit, soek vir dat en algaande word ek wys. Party plantjies verlep in die proses en nuwe sade word nader gehark om te saai.

Dank Vader, daar is ‘n vrolike, malkop, perskop Siel wat saamloop. Sy plant tussenin en maak my nog deurmekaarder, net om skielik onverwags ‘n helder oomblik te maak met haar vrolike pers Lig.

Die Virgo bring kort-kort haar skietlood en meet en pas, gooi die kruiwa om en dan moet ek my kop se kas weer van vooraf regpak. Met nuwe insig en wete vorentoe spit. Tussendeur al die werfwerk sing my pienk hart, volborstig saam. Ek het lanklaas so lekker gespeel/werk.

Die groot werf-Bouer is voorwaar ‘n slimme man. Dis nou maande en seisoene wat ek loop en wroeg oor die tuin en die werf. Lang gesprekke voer ek met die liefmense in my lewe en steeds kom ek nie vorentoe met die oes nie. Onlangs daal daar ‘n helder oomblik op my kop se kas en seg ekke; ek wil ‘n webwerf hê! Met dié uitspraak skrik ek binne-in mysigselwers in.

Ja seg die Virgo, dis ‘n gawe plan, doen dit dadelik, kondig sy sonder banghaar aan. Ek het eers heelwat later weer uitgekruip en toe begin wonder hoe, waar en wie. Maar die wie, was maklik, dis mos die perskop Siel wat moet saam skoffel en plant aan die werf. Wie anders sal die geduld en insig hê om diep te grou, weer te bou en nogmaals te saai? So gesê en so gedaan. Ek stuur die posduif na Fransland in die sneeu, die brief in sy bek vra of sy sal help bou aan my mooie prentjie en werf. Jaaa! seg die mooie perskop Siel, ek sal verseker help, ek hou van plant en saai!

En hier is ons, die werf lyk alte vrolik en ek is vol blydanse! My kop se kas is reggepak, ek weet nou beter hoe die tuin moet werk.

En nou is my werf geplant, die saadjies begin al kop uitsteek en ek nooi jou vriendelik om te kom dans op die stepping stones in my tuin!

 

An fold logo 1