Month: May 2018

Die kletterkop en die ‘tightrope’ van die Lewe!

As mens eers weet dan weet jy mos, dan kan jy nooit weer onweet nie!

Ek weet nou dat my lewe aansienlik beter word as ek my kop kan laat sjarrap. Dis in die stilte wat die inspirasie kom, waar nuwe idees gebore word. Die gekletter in die kop staan tussen my en fris en vars en tra-la-la!

Dis hoe ek my repertoire van bid en vra, vergroot het, na stilbly en luister, ook genoem mediteer.  En voila… ‘magic’ gebeur!

Daar is ‘n skare wyse leermeesters op die internet wat vertel dat die antwoord in die Stilte agter jou oë lê. Ek het loop luister na my stilte en dis die waarheid.

‘n Wyse siel het gesê: “God’s only voice is stillness, the rest are bad translations!”

Makliker gesê as gedoen, amper soos om op ‘n ‘tightrope’ te loop. Nou nie dat ek enigsins op ‘n tou in die lug kan loop nie! Maar ek kyk na diesulke kranige balans-kunstenaars en ek sien hulle kan nie een oomblik hulle aandag wegneem van hulle doenery nie. Die aankykers word selfs gemaan om tog geen geluid te maak nie want as die dapper balansmens skrik, foeter hy dalk af.

Dis hoe ek hom ook het. Vir my het dit duidelik geword dat mens ‘n manier moet vind om heeltyd jou stilte te hoor. Veral as daar ‘n erge lawaai soos ‘n kletterkop mens oor jou pad kom, dan moet jy fokus om nie af te foeter nie. Die afval kom veral wanneer mens ‘n storie begin storie oor wat om jou gebeur. Daai ding wat jy hoor die mens sê sonder woorde. En dan begin jy met hom ‘n grote gesprek in jou kop sonder om ‘n woord te sê! En die kop kletter en die hart pyn en die lip bewe!!

Ek kry nou reg om daardie ellende meermale voor te wees, as ek net my kletterkop tot stilte kan dwing.

Die wonderlikste ding gebeur as mens met ‘n stilkop leef. Mense om jou raak ook stiller. Diere veral is sag en rustig. Mens leef! Jy beleef!

Nou is dit  ‘n lekkerte wat ek oefen as ek in die wêreld opdaag, dan is dit heerlik om te sien hoe die wêreld ‘n baie mooier plek is, as wat my kletterkop vantevore vir my gestorie het.

 

ditekenar ballerina

Advertisements