Nog ‘n skoenstorie…!

Skoene… voet bekleedsels!

Storievertellers!

Ek kan na ‘n siel se skoene kyk en vreeslik baie te wete kom van hom.

Selfs die groot Boek vertel van skoene. Hy praat van die Israeliete se pad deur die woestyn wat veertig jaar aangehou het en dat hulle skoene nie verslyt het, met die ver-pad se loop nie. Dít was ‘n simbool van versorging.

Ek het mos al heelwat gestorie oor my skoene wat ek op die dak gegooi het en nou nie meer volstaan nie. Sít ek nou mos, kaalvoet in die son, met my perspen en stories griffel.

Met al die gesê, wil ek storie oor my vriendin met die pienk skoene. Nie gewone skoene nie; “confused” skoene… hulle is, nog vis, nog vlees. Hulle is nie tekkies nie, hulle is nie pantoffels nie, hulle is “ridiculous” en beeldskoon!

Soos sy!

Sy kom met hulle swaai-swaai aangestap, asof daar ‘n dansie in haar lyf wegkruip wat elke nou en dan wil-wil, deurbreuk!

Voor op die tone is allamintige tossels en die twee stuitige trappers maak mens summier giggel!

Waaat…? Dis wat mens wil vraag! Wat is julle immers? Ek meen om mee te begin is julle pienk, met tossels! Maar julle kruip in ‘n tekkie gewaad weg, kompleet met vet wit sole!

Maar hulle giggel net binnetoe en verklap geen geheime nie.

Hulle weet… hulle weet dat hulle aan twee dapper voete loop, wat nes hulle is. Gun mens weet mooi wie sy is nie. Sy is net wat sy wil wees, elke dag, iets anders, of nie!

Dit hang net af…

Van wat? Van die weer en die geur, die kleur en die wind.

Vol brawade loop hulle saam; die dapper voete en die “ridiculous” skoene.  Hulle glimlag saam as ander siele die pienk dansie gadeslaan, kopskuddend wonder en wonder…

Soms wonder ek of sy self weet. Ek dink sy wonder ook of sy ‘n tekkie of ‘n pienk pantoffel, met tossel vrou is.

‘n Vis of ‘n mens is!

Danser, engel of dalk, swewerige swerwer is!

Maar dit maak nie regtig saak nie, sys ‘n wonder-Vrou en sy loop dapper met “ridiculous” skoene en mooiwees!

Wéét is “anyway overrated”… vir die voëls!

Wéés is baie meer, en baie beter!

Dan giggel ons maar saam en verkyk ons aan die wonderlikheid van die Lewe met sy mooie siele. Die met gewonerige skoene en die met kaalvoete. Die met duur labels en dan is daar die ‘wonder’ skoene!

 

One thought on “Nog ‘n skoenstorie…!

Leave a reply to Toortsie Cancel reply